My sus ken Fraserburg se mense en die mense van die plek ken haar. As jong onderwyseres, vars gegradueer in BA-Tale-met-HOD-van-UPE begin sy daar skoolhou in 1979… Afrikaans letterkunde, literatuur, poësie, stelwerk, drama, dialoog… sy voer Hoërskool Fraserburg tot wentrofee in die eindronde van die ATKV toneelfees. Op Fraserburg ontmoet sy ook vir Tian, wat haar geliefde en sielsgenoot sou word. En wat té vroeg en onverwags sy tentpenne uitgetrek en die ouderdom gefnuik het… om net in ‘foto’s-tot-46′ te verskyn… maar in herinneringe en impak ad infinitum. Deur die vloedwaters swem sy en haar drie meisiekinders kop-omhoog en hou mekaar bo. Sink is nie ‘n opsie nie… mens hou aan tot jy weer grond raak. Oor die verlies van ‘n ander bekende Karoomens stuur sy vir my die harts-essay aan: ‘Kwaad vir God en die dood‘. Ek lees weer van mense se gewoontes, kostelikhede, kombuise en kos. Gasvryheid (wat meesal saam met kos gaan). Familiebande. Veld en natuur. Ek besef hoe verweef is ons Afrikanerbestaan met ons gedigte. Met trots. In my tuiswêreld kán almal nou trots wees op hul eie unieke kultuur. Wat vir ander net ‘n kort sinnetjie is (‘en aan ‘n God kan glo…’), herken ek in Toon van dan Heever se ‘Hoëveld’. Wat ook oop en hemelwyd is, met huppelende kuddes gras, en ‘n huis wat mens vir geld (geleenthede, loopbaan, roem?) moes agterlaat. En eindelik vir die ewige wegtrek.
En ek onthou. Soos ek seker is sy ook doen…
Mense van klein plekke is groter, hulle voetspore dieper, en met die weggaan, hulle plek leër… Maar die krag vir opstaan is wyer en sterker en hemelhoog.