Van Vleiloeries en Verjaardae

December 26th, 2025

Ek het vanaand weer die vleiloerie gehoor. Vir die eerste keer in baie jare het sy borrelende chromaties-afgaande note oor die bos gehang. En skielik onthou ek weer die man met die hond. Dit was ‘n husky. Ek was 7 of 8 jaar oud en ons woon op die Robbertsons se plaas Kingston, naby Ruigtevlei. Oom Willie se broer is skielik dood en hulle roep sy seun wat op ‘n Suidpoolsending is per amateurradio om hom die tyding te gee. (Ons het eers later van Antarktika begin praat – en dalk was hierdie nie eens ‘n regte ‘Suidpooltog’ nie, maar so is dit in die wonderlike ligtheid van kinderherinneringe…) Pappa het altyd vertel in daardie jare was amateurradio die enigste tegnologie waarmee hulle hom in dié verre verlatenheid kon opspoor. En die seun kom huis toe. Vir dae lank het die jong man oor die plaas gedwaal met sy hond aan sy sy. Die husky het saamgereis uit die poolsirkel en hulle was onskeibaar. Ons was gefassineer. Was dit die baard? Die hond? Die verlatenheid en hartseer? Dalk die blote idee dat ‘n ‘ontdekkingsreisiger’ in vlees en bloed ons plaasbestaan kon penetreer.

Ek dink nou dikwels aan die jong man met die hond. En die vleiloerie wat altyd saans in ons tuin geroep het as die skemer sak en die mis oor die klowe hang. Die dood is ‘n getroue hond wat styf teen jou stap, ‘n skaduwee wat mens in toom probeer hou – en tog voed en volg én lei. Die vertroude metgesel wat al harder hyg en dan weer stil lȇ en sy pote lek en met uithangtong en vriendelike oë opkyk in afwagting na die laaste bult-op loop, nog een oggend se boslangs stap, vir oulaas uitkyk oor die branders wat woes breek. Nog één kampvuur, een laaste oggendkoffie op die stoep. Een volmaan wat oor die vlaktes hang.

Die bebaarde jong man met die hond is terug Suidpool toe. Dalk het hy ook saans na die Suiderkruis en melkweg gestaar en soggens voordag vir Venus en Orion gegroet en geglo sy pa sou daar bo wees. En as die vleiloerie meteens die aand voor sy verjaardag borrel en roep, dan weet ek my Pa loop steeds in die aandskemer deur sy tuin.

Hortus Botanicus

December 25th, 2025

Hortus Botanicus. So het die bord teen die wit pilaar langs die houthek in Neethlingstraat aangedui. As ‘n 1977 eerstejaar-‘knol’ in Harmonie Dameskoshuis net langsaan, het ons daagliks oor die tuin uitgekyk en by die houthek verbygestap op pad na die Laan, of Coetzenburg, of op pad dorp toe. As Botanie-student was dit ook ons voorreg om ‘n toer deur die Botaniese Tuin te kry tydens een van ons praktiese klasse. Wim Tijmens was kurator, en die Pelargonium-guru, Prof JJA (Adri) van der Walt wat hoof van die Botanie Departement was, het sy uitgebreide inheemse Pelargonium-versameling daar gehuisves – ry op ry plantpotte met kosbare ‘wilde malva’-steggies uit al die hoeke van Suid-Afrika. Toe daar aan die einde van ons eerstejaar ‘n kennisgewing verskyn dat die departement ‘n student soek om Sondae ‘diens te doen’ as hulp-kurator in die Botaniese Tuin, het ek versigtig gaan klop aan prof. van der Walt se deur. Die soeke was eintlik na ‘n nagraadse student, maar ‘fools rush in where angels fear to tread’: ek het reeds langs die tuin gewoon en met min te doen op ‘n Sondagmiddag voor kooroefening en kerk, terwyl my ouers ver is en die koshuis leeg… En ek kon ekstra sakgeld verdien! So gebeur dit toe dat hierdie jong Botanie-student Sondagmiddae hekke oopsluit, fonteine aanskakel (elk met sy geheime wegsteekkraan iewers onder ‘n klip), besoekers se vrae antwoord en kyk dat niemand plante wegdra nie… Ek kon selfs in die kuratorskantoor vir my tee maak en deur publikasies en herbariumeksemplare blaaI – ‘n groot voorreg vir ‘n student wat nog inkomtye en strafdienste in die koshuis het, en min vryhede in die klein wêreld waarin ons geleef het. So het my hart se reise in die Hortus Botanicus van die Stellenbosch Universiteit begin.

In 1980 begin ek met Botanie-honneurs, en daardie jaar raak die tuin my laboratorium en leefplek. Vir my honneursprojek en skripsie moet ek ‘n studie maak van die trigome (fyn haartjies en klierhare wat essensiële olies afskei) van al 133 inheemse Pelargoniumspesies in onse prof se versamling, om te bepaal of die strukture enige taksonomies waarde het. ‘Painstaking’ was beslis die woord vir my eerste jaar van navorsing… maar groot vreugde om die plantmonsters daagliks in die Hortus Botanicus te kry, en dan ook op ontdekkingsreise en versameltogte saam met prof Adri van der Walt en dr. Piet Vorster te gaan. Ek was toe nog ‘juffrou Oosthuizen’ en geïnspireer deur groot geeste soos dr. Ave Duthie en prof. Miriam de Vos, pioniers in eie reg. En ter plaatse het prof Jan de Bruyn, Adri van der Walt, Johann Visser en Jan Coetzee nuwe horisonne geskep. Met die begin van my MSc (steeds Botanie) trek ek en ‘n paar vriendinne na die universiteitshuis ‘Hys Mys’ op die hoek van Murray en Neethlingstraat. My kamer het ‘n kaggel, stoepdeur en venster wat uitkyk oor die Botaniese Tuin. Die tortelduiwe was ons oggendwekker en kortpad klas toe was deur die tuin. So gebeur dit toe ook dat ek my destyde kêrel oorreed om een naweeksaand in die Botaniese Tuin te gaan slaap. Ek het mos die sleutel! Donkeraand trek ons ons plat in slaapsakke langs die lotusdam met eende wat nesskrop en ‘n paddakoor wat kompeteer met die krieke. (Dalk was ons die enigste mense wat ooit die voorreg gegaps het?) Die ateljee in die middel van die tuin – nou restaurant en kuierplek – was gebruik vir vergaderings en klankopnames. Ek onthou ‘n radio-onderhoud voor ek in 1981 na Israel vertrek vir ‘n studietydperk by Weizmann Instituut, en ‘n uitstalling van Elaphie Ward-Hilhorst, die illustreerder van die JJA van der Walt-trilogie oor Pelargoniums van Suider Afrika. Die Tuin het my as’t ware gehelp grootword en my eie stem kry.

Na PhD en trou en ‘n ompad deur Pretoria (studies vir my, diensplig vir my wederhelf) trek ons harte sterk terug Kaap toe en ons bou huis in Paradyskloof en maak 3 seuns digby die Akker groot. Nou is die Botaniese Tuin my seuntjies se speelplek, piekniekplek en boomklimparadys. By Wim Tijmens se ‘Gedoentes’ plas hulle rond, spring oor klippe in die leliedam, val soms in die fonteindam, en word bosmonsters in die Arboretum. Die geheime lewe van plante is ‘n nuwe ontdekking, en toe my oudste op ‘n ‘los-my-uit-dag’ vir sy boetie skree ‘moenie naby my kom nie, ek is vandag ‘n brandnetel’ toe besef ek, iets het ek reg gedoen, en Die Tuin het ook onder hulle vel ingekruip.

In 2005 trek ons ons tentpenne uit, en lei ons paaie na Kalifornië. Ek verlang… ek mis my tuin. Ek kan nie verstaan dat die top-universiteit waar ek my nou begewe nie ‘n Hortus Botanicus het nie. ‘n Kaktustuin sonder naambordjies tel tog nie? En wie neem nou sy meisie vir kuier op ‘n bankie langs ‘n kaktus… Met elke Kaapse kuier (ten minste 2 maal per jaar!) is die Botaniese Tuin bo-aan my lysie. Toe ons verlede jaar as gesin saam in Stellenbosch is vir die Kersseisoen, besluit my seuns om hulle ma te bederf met ‘n paar dae in Hys Mys. Nou ‘Bon Esperance Boutique Gastehuis’ – waar ek weer in my ou kamer slaap, op dieselfde stoep sit en uitkyk oor die Hortus Botanicus, met duiwe wat my wakker tortel. Die tuin het nou ‘n nuwe gesig gekry, en almal staan verbaas oor die ingrypende verandering. My enigste vrees was dat die nuwe kurator ‘n ander pos sou aanvaar voor die omskepping klaar is, want dit sou haas onmoontlik wees om sy visie te voltooi sonder sy leiding. Met Don Kirkwood se tragiese dood in Augustus onhou ek my vrese en woorde, en weet sy werk was voltooi. En Hortus Botanicus en ‘n oorvloed van herinneringe leef voort, en is nog lank nie klaar nie. En ek is spoedig weer daar! Dankbaar en bly oor die pioniers en mentors, rolmodelle, inspirasie en geborgenheid wat die tuin der tuine my gebied het. Hortus Botanicus van die Stellenbosch Universiteit.

Generasies

December 25th, 2025

Kleintyd op Stellenbosch het my seuns ‘n t-hemp gehad met die woorde ‘My Ouma was ‘n Matie’ voorop – wit letters op maroen. Maar Mamma was ook ‘n Matie, en boonop was Oumagrootjie ook ‘n Stellenbosse student.

Grootouma Josephine (Jossy) Joubert van Gelukshoop, Bonnievale, het op Hoërskool na die Seminarium op Wellington gegaan – vandag die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Sy is in 1902 gebore, en nadat haar ma dood is in die1918-griep, het haar pa haar eers laat plaas toe kom om vir hom en haar ouer broers te kom huishou. ‘n Plaas sonder ‘n boervrou sou ‘n wankelrige besigheid wees! As beloning het hy vir haar ‘n klavier gekoop: E.Krauss Stuttgart is in goue krulletters binne-in die deksel geskryf. Ek weet, want daardie klavier het saam met Ouma Jossy by ons huis in George kom woon toe Oupa Calla skielik oorlede is, en vandag staan Ouma se 1918-klavier in my huis in Los Altos, Kalifornië. Ouma Jossy is derhalwe eers op 21 van die plaas af Stellenbosch toe, waar sy ‘n diploma in skilder- en kookkuns verwerf het. Ek is onseker of daar ‘n ander opvoedkundige instituut op Stellenbosch was waarheen jong meisies gegaan het om te leer skilder en kook, maar van Ouma se sketse het bewaar gebly, en haar kookkuns was uit die boonste rakke! En so het Stellenbosch generasie nommer een gebeur.

My ma, Gerda du Toit, het op 16-jarige ouderdom op Stellenbosch aangeland. Sy was kleintyd al ‘n flukse leerder, en het vinnig deur die laerskoolklassies in Wadrif se plaasskool gevorder sodat sy op 15 in matriek was in Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres. Haar ouers boer in die Koue Bokkeveld, en pakkies vrugte, neute en beskuit van die plaas af is ‘n gereelde ‘treat’ – ‘n gewoonte wat vandag nog in ons familie voortleef. Haar eerste universiteitsjaar was aan die SA Universiteitskollege in Wellington, wat in 1949 saamsmelt met Stellenbosch Universiteit – en op 17-jarige ouderdom is my ma ‘n tweedejaarstudent wat in Monica tuisgaan, en haar BA-graad in Afr-Nederlands en Sielkunde voltooi, gevolg deur HOD. Hier het Stellenbosch in my herinneringe begin. My ma vertel van die rugbykaptein Ken Watson wat almal se held was, jooloptog met sierwaens en die joolkaptien PH Nortje (later bekende skrywer) vir wie almal ogies gemaak het, asook Matiedirigent Con Hofmeyr. Naweke klim sy en haar kamermaat op die trein Kaapstad toe, en verder ry hulle fiets, gaan op BTK-uitstappies en sy is so jonk en onervare, sy noem die professore ‘Oom’. Sy sing ook in Gawie Cillie se Universiteitskoor – ‘n belangrike skakel in haar latere huwelik met my pa, Nellis Oosthuizen, wat weer in Philip McLachlan se koor in Graaff-Reinet Onderwyskollege sing. Hulle ontmoet mekaar deur ‘n kerkkoor in Port Elizabeth, waar my ma by Hoërskool Pearson haar eerste onderwyspos beklee.

Ek land dus as derde-generasie Stellenbosser in Matieland in 1977. Dit was egter hittete of ek het na die nuwe Universiteit van Port Elizabeth gegaan. UPE (nou NMU) was nader aan my ouerhuis in George, en my ouer suster het reeds daar studeer. Die deurslag het egter gekom met Oom Mossie se atletiekkursusse in die stad van eikebome, waterstrome en tortelduiwe. Na my eerste week van atletiekkamp in Stellenbosch – Die Laan, Coetzenburg, bergpad en Jonkershoek… het my kop onwrikbaar Stellenbosch toe gemik. Boonop ry ek en my pa nou gereeld Stellenbosch toe om die bekende Uurbyeenkomste op Coetzenburg by te woon: 4 ure vanaf George, een uur se opwindende atletiek, en dan val ons weer in die langpad terug huis toe. Harmonie Dameskoshuis word my huis, nagraads woon ek in Murrastraat1, en Oom Pieter van der Westhuizen se Studentekerkkoor (nou Canticum Novum) word my koortuiste. Eksamenuitslae word angstig in die Leeuhokke ingewag, tussen die KGB (Kosie Gericke Biblioteek) en die Kremlin (Administrasiegebou). Die Conserve is in aanbou, Neelsie is so pas ingewy, en ons sokkie in Neelsie se Gat, bederf onsself met ‘n bordjie slap tjips oor ‘n naweek, en uit die koshuisvensters hang klokkies aan toue vir die manne om ons voordeur toe te roep. Snags kom ‘serenade’ Wilgenhof se Kraaie vir ons dames wat nog ‘inkomtye’ en ‘inteken’-reels het, en saans 8-uur agter slot en grendel in ons kamers moet wees. Naweke was reëls meer buigsaam, maar ons bly binne perke! Die koshuis het een TV – in die ‘Lookery’ staangemaak – en eksamentye kry ons blokkoek en drink tee in die ‘Cookery’. Motors was ‘n taboe vir voorgraadse studente, en almal ry steeds fiets. Toe ek nagraads in Hys Mys my eerste karretjie kry (‘n tweedehandse Triumph Chicane), het ‘n nuwe Stellenbosch vir my oopgegaan! Nou ry ek naweke Jonkershoek of Kaap toe, of na my plaasfamilie in die Koue Bokkeveld – steeds baie versigtig en spaarsaam met brandstof. Dit help om maats te laat saamry om brandstofgeld te deel! Ons ontdek staproetes en pak rugsakke vir die Outeniquas, Visrivier, Hottentots-Holland en ander opwindende bergroetes. Die plek pas my soos ‘n handskoen. Hier wil ek bly.

My eie 3 seuns raak in die Eikestad groot. Na 25 jaar in Stellenbosch wink Silicon Valley vir pa Pierre, en ons groet ons Paradyskloofhuis. Die vierde generasie studeer nou aan universiteite soos Stanford, UC Berkeley, UCSD en CSU in Kalifornië, en Columbia Universiteit in New York. Ons gedy, ons kry swaar. ‘n Groot kultuurlose vakuum omring my. Ons bereik hoogtepunte en dwaal ook koersloos deur die resessie van 2008. Na vele slapelose nagte vertrek ek in 2017 terug Stellenbosch toe met ‘n wonderlike loopbaangeleentheid aan die Universiteit. So ‘n solo-safari is ‘n groot sprong! Ek haal diep asem en land saggies. Dis swaar – en dis wonderlik! Stellenbosch omhels my weer met tortelduiwe en riviere, berge en groen. Dis tyd om lig te leef. In Paradyskloof huur ek ‘n tuinwoonstel by ‘n Duitse kunstenaar wat met sy Ugandese vrou 6 maande van die jaar in Stellenbosch woon. Ons kuier en eet en gesels. Ou vriende is steeds daar en ons gaan weer op staptogte – ‘slackpacking’ is ‘n nuwe lekkerte. Ek woeker met navorsingsfasiliteite en bou ‘n laboratorium, mentor en motiveer studente, en sit soms asemloos en in verwondering oor die Suid-Afrika en Stellenbosch waarin ek my nou bevind. My studente en medewerkers kom uit Nigerië, Uganda, Namibië en Zimbabwe, asook Cambridge, Oxford en van oraloor Europa. Ek skakel in by die ThinkTank met KU Leuven en sing weer in Canticum Novumkoor – nou onder leiding van Louis van der Watt. My pa is onlangs oorlede, die verlange is erg, en naweke neem ek my ma op kronkelpaaie na familie en ou vriende. Ek en my suster diep geraamtes op uit die familiekas en lag oor die dag wat kom. Ek haal weer asem tussen blou berge en fynbos.

In 2020 roep Stanford Universiteit my terug en my gesin wag my in. Dit was nodig, dit was goed, ek weet waar ons hoort. Ons harte trek steeds Suid. Onwrikbaar soos ‘n kompasnaald. Die trek van generasies.

Want daar’s net een Bos… en dis Stellenbosch!

Maties Karnaval 1951! Ma Gerda du Toit 5de van links.
‘Parlour Girls’, Ouma Jossy Joubert, 1922