Cape capensis

July 17th, 2013

Hiers n Trader Joe’s  ‘Organic for the working class’ naby my huis, waar ek onlangs die stokvis ontdek – en skielik wonder, het die outjie dalk by Vleesbaai gewei daar teen Kowa se bank… of Stemerklip? Of om die draai by Fransmanshoek se Malbaai… of voor by die Saal? Visplekke waar ek kleintyd saam met my pa gaan rots’hengel’ het, douvoordag opstaan as die gety reg is, en dan sit en sit en wag en wag… en as ek gelukkig is kan ons doodsveragtend teen die kranse afklouter en die stompkop/beenbek of kabeljou gaan ‘gaff’…! Aas uithaal was iets wat vandag in Discovery Channel opspraak sou verwek: my pa klim af in die diep skeure vir rooiaas en ’siffies’, ek sit bo en hou die deinings dop tot die volgende grote wat oor die rotse gaan slaan en my pa daar sal afslaan as ek nie betyds waarsku, of reg oordeel nie… Ja, ons was strandlopers en ons het dit nie besef nie. Getye was soos asemhaal en volmaan-springgety was die beste. Opstaan 4-uur in die oggend om 5-uur op die rotse te wees was nie vreemd nie. Laterjare het ek die duinepad Fransmanshoek toe gehardloop om reg te wees vir die atletiekseisoen. Ons was so bevoorreg. Ons was so mens! En my hart trek met n punt na daardie menswees.
Dit is nog daar, nie waar nie?
Ten minste die springgety is nog daar, en die stokvissie wat alliepad tot in Kalifornie getoer het om my te laat onthou.
En verlang
Na strandlopertye.

.