Inhardloop

December 22nd, 2016
Ek het geleer om hom van agter af in te hardloop. Kleintyd. As ek hoor hy skakel die wit Peugeot se enjin aan in die sink waenhuis bo teen die bult en hy is op pad êrensheen sonder dat ek daarvan weet. Dan glip ek soos ‘n slinks akkedissie by die koshuis se agterdeur uit en wikkel my vierjaaroue beentjies om hom in te haal. Soos n klein stofwolkie in die grondpad sien hy my aangehol kom in sy tru-spieëltje. Witkoppie bonsend, armpies swaai en bene wikkel volstoom. Ek moet hom inhaal voor hy by die hek uit is. Dat ek kan saam. Saamry. Saamkyk. Saamsing. Saamluister. En dalk is daar n maatjie op ‘n ver plaas. Dan sien ek hy trap rem en hy wag vir my. En ons ry sandpaaie langs na plase agter duine en deur droë rivierlope vol doringbome met geel stofferblommetjies en skeletwit pendorings. Soms ry ons ver met die vinnige grondpad tot op Springbok. Dan lê ek met my kop op sy been en slaap op die voorste sitplek. As ek wakkerword is daar toebroodjies wat Mamma ingepak het. Hy weet ek wil weet as hy die pad vat, dat ek kan reg wees vir die saamry. Ek het my atletiekbene gegroei teen daardie bult, het hy vir my gesê. Met die inhardloop van sy kar. As hy my soos ‘n stofwolkie in die wit Peugeot se spieëltjie sien aangehol kom. Hy het dit hoeveel keer vir my vertel.
.
Maar nou die dag, Pappa, toe vat jy weer die pad sonder om my te vertel en ek glip weer soos ‘n slinks akkedissie uit tussen al die mense en mure en vergaderings en toesprake en gassprekers en kom so vinnig as my bene my kan dra om jou bult-op in te haal. Net die keer was jy klaar uit by die hek en hoe ek ookal wuif en roep en uithaal tot ek brandasem moet bly staan,  sien ek jou nie remtrap om vir my te wag nie. En jy kyk nie om nie. Jy weet mos ek wil weet as jy êrensheen gaan. Dat ek kan reg wees met my toebroodjies en om teen jou been te slaap. Net die keer kon ek nie weet nie. En jy kon nie langer wag nie. Selfs al kon jy my in jou truspieëltjie sien uithaal om by te bly, kon jy nie rem nie. En toe staan ek alleen teen die sandpad en sien jou oor die verste bult verdwyn.
.
Ek sal net hier sit en wag tussen die vygies en dorings en helder sterre tot jy later terugkom. Gelukkig is toebroodjies nie nodig vir die hardepad vorentoe nie. Daar’s n boere-oom wat vir ons biltong gee en jy gly nie weer op die nat misvloer en val jou beste pak klere in sy peetjie in nie. En daar’s n reuse-spanspek soos die ene by Baksteenhoek. En Diknek se roosterkoeke staan en rys al. Oubees se buitekamer is reg vir ons kuier.
.
Ek sal bly uitkyk vir jou terugkom, maar dalk… net dalk… wag jy die keer agter die bult vir my. En as ek aanhou en uithou selfs al pyn my bene en brand my bors… dan sien ek jou wag oor die laaste bult. En jy loop in die veld en jy neurie saggies.
.