Op Maandae het die groentelorrie gekom. Dan is slaai, tamaties, bone, blomkool, kopkool, skorsies en pampoen afgelaai. Die groot beplanning en weeklikse kook het begin. Daar was 26 kinders wat elke dag moes eet. Drie maal, met een paraffienyskas en ‘n houtstoof. Wallekraal. My ma ‘n brose 30, pa 33, en die twee stadsjapies durf die vreemde aan met twee voorskoolse dogterjies en ‘n groot avontuurlus. Soetsuurdeegbrood vir 30 mense, elke dag. En die nuwe koshuismoeder het nog nooit ‘n brood gebak nie! Die eerse poging was plat en taai, my ma steek kers op by Diknek se baasbakster en siedaar! ‘n Aartappelplantjie en bietjie touwysmaak, en Tina Aggenbach se raad laat die skool oorleef. Die brood rys en Andries steek elke keer sy hand op vir nog ‘n snytjie. Nou word daar daagliks ingesuur, die deeg word dopgehou, en die houtstoof word gestook. Boeppens baksels word toegemaak onder ‘n lappies-broodkombers en warm-warm geëet.
Die groentelorrie uit Vredendal se kooksels word beplan. Maandae is tamaties en blaarslaai en alles wat vinnig verlep, geëet. Dinsdae groenbone, en van Woensdag af is dit kool en wortels, en laaste die skorsies en pampoene wat geduldig in die donker buitekamer hulle kans afwag. Gedroogte vrugte word oornag geweek om sag te kook vir bykos of nagereg saam met vla. Bone word gespoel, geweek, gekook, eerste water afgegooi en weer gekook. ‘n Asyn-en-maizena-sousie verander dit in ‘n bederfdis. Roomys is net vir die dorp, en dus een maal per maand – as kinders soet is. Rooibostee word in ‘n geel enemmeltuitkan gekook en stomend warm gedrink, almal kry ‘n bekervol met vars bokmelk aan etenstafel. Koffie word gemaal en in ‘n linnesak in ‘n koffiekan gemaak. Sakkoffie is net vir grootmense, dit gee kinders vlooie in die maag. Vir slaaptyd rek my ma die rande en koop kakao om die koshuiskinders met ‘n warm slaapdrankie te bederf. Koeimelk is skaars, en lentetyd smaak die melk wild van die gousblomme in die weikamp. ‘n Paar lepels kakao red klein dogtertjies se lewe ook!
Ons het altyd so gewens ons kon teruggaan na daardie rustige ongekunstelde jare. En ons het. Ons koop nou een maal per maand ‘n groot voorraad, ons groente word tuis afgelewer, ons rantsoeneer die eiers en brood en slaai en melk. Ons rek die rande en kos in die spenskas. Ons bak weer ons daaglikse brood en hou ‘n broodkombersie in die kombuislaai aan. Ons bel ons bure op die plaas langsaan. Ons kyk of daar nie dalk ‘n kar in die pad afkom nie.
En skielik onthou ek die gesin wat net een maal per jaar dorp toe gegaan het. Toe my ma en pa die Saterdagoggend tienuur in Garies se hoofstraat indraai, kom die Mosterts net uit die dorp gery. Klaar gekoop vir die jaar. Wie het nou meer as een uur in die winkels nodig?
Maar ek mis steeds die geur van Cobra-politoer op die houtvloer, die sandpad met middelmannetjie wat afkronkel teen die bult, die geeldons-acaciabome wat ‘n soom afsteek teen die rivierloop. En die bakoorjakkals wat snags roep in die stilte en omkyk. En opkyk en roep.