Kleintyd op Stellenbosch het my seuns ‘n t-hemp gehad met die woorde ‘My Ouma was ‘n Matie’ voorop – wit letters op maroen. Maar Mamma was ook ‘n Matie, en boonop was Oumagrootjie ook ‘n Stellenbosse student.
Grootouma Josephine (Jossy) Joubert van Gelukshoop, Bonnievale, het op Hoërskool na die Seminarium op Wellington gegaan – vandag die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Sy is in 1902 gebore, en nadat haar ma dood is in die1918-griep, het haar pa haar eers laat plaas toe kom om vir hom en haar ouer broers te kom huishou. ‘n Plaas sonder ‘n boervrou sou ‘n wankelrige besigheid wees! As beloning het hy vir haar ‘n klavier gekoop: E.Krauss Stuttgart is in goue krulletters binne-in die deksel geskryf. Ek weet, want daardie klavier het saam met Ouma Jossy by ons huis in George kom woon toe Oupa Calla skielik oorlede is, en vandag staan Ouma se 1918-klavier in my huis in Los Altos, Kalifornië. Ouma Jossy is derhalwe eers op 21 van die plaas af Stellenbosch toe, waar sy ‘n diploma in skilder- en kookkuns verwerf het. Ek is onseker of daar ‘n ander opvoedkundige instituut op Stellenbosch was waarheen jong meisies gegaan het om te leer skilder en kook, maar van Ouma se sketse het bewaar gebly, en haar kookkuns was uit die boonste rakke! En so het Stellenbosch generasie nommer een gebeur.
My ma, Gerda du Toit, het op 16-jarige ouderdom op Stellenbosch aangeland. Sy was kleintyd al ‘n flukse leerder, en het vinnig deur die laerskoolklassies in Wadrif se plaasskool gevorder sodat sy op 15 in matriek was in Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres. Haar ouers boer in die Koue Bokkeveld, en pakkies vrugte, neute en beskuit van die plaas af is ‘n gereelde ‘treat’ – ‘n gewoonte wat vandag nog in ons familie voortleef. Haar eerste universiteitsjaar was aan die SA Universiteitskollege in Wellington, wat in 1949 saamsmelt met Stellenbosch Universiteit – en op 17-jarige ouderdom is my ma ‘n tweedejaarstudent wat in Monica tuisgaan, en haar BA-graad in Afr-Nederlands en Sielkunde voltooi, gevolg deur HOD. Hier het Stellenbosch in my herinneringe begin. My ma vertel van die rugbykaptein Ken Watson wat almal se held was, jooloptog met sierwaens en die joolkaptien PH Nortje (later bekende skrywer) vir wie almal ogies gemaak het, asook Matiedirigent Con Hofmeyr. Naweke klim sy en haar kamermaat op die trein Kaapstad toe, en verder ry hulle fiets, gaan op BTK-uitstappies en sy is so jonk en onervare, sy noem die professore ‘Oom’. Sy sing ook in Gawie Cillie se Universiteitskoor – ‘n belangrike skakel in haar latere huwelik met my pa, Nellis Oosthuizen, wat weer in Philip McLachlan se koor in Graaff-Reinet Onderwyskollege sing. Hulle ontmoet mekaar deur ‘n kerkkoor in Port Elizabeth, waar my ma by Hoërskool Pearson haar eerste onderwyspos beklee.
Ek land dus as derde-generasie Stellenbosser in Matieland in 1977. Dit was egter hittete of ek het na die nuwe Universiteit van Port Elizabeth gegaan. UPE (nou NMU) was nader aan my ouerhuis in George, en my ouer suster het reeds daar studeer. Die deurslag het egter gekom met Oom Mossie se atletiekkursusse in die stad van eikebome, waterstrome en tortelduiwe. Na my eerste week van atletiekkamp in Stellenbosch – Die Laan, Coetzenburg, bergpad en Jonkershoek… het my kop onwrikbaar Stellenbosch toe gemik. Boonop ry ek en my pa nou gereeld Stellenbosch toe om die bekende Uurbyeenkomste op Coetzenburg by te woon: 4 ure vanaf George, een uur se opwindende atletiek, en dan val ons weer in die langpad terug huis toe. Harmonie Dameskoshuis word my huis, nagraads woon ek in Murrastraat1, en Oom Pieter van der Westhuizen se Studentekerkkoor (nou Canticum Novum) word my koortuiste. Eksamenuitslae word angstig in die Leeuhokke ingewag, tussen die KGB (Kosie Gericke Biblioteek) en die Kremlin (Administrasiegebou). Die Conserve is in aanbou, Neelsie is so pas ingewy, en ons sokkie in Neelsie se Gat, bederf onsself met ‘n bordjie slap tjips oor ‘n naweek, en uit die koshuisvensters hang klokkies aan toue vir die manne om ons voordeur toe te roep. Snags kom ‘serenade’ Wilgenhof se Kraaie vir ons dames wat nog ‘inkomtye’ en ‘inteken’-reels het, en saans 8-uur agter slot en grendel in ons kamers moet wees. Naweke was reëls meer buigsaam, maar ons bly binne perke! Die koshuis het een TV – in die ‘Lookery’ staangemaak – en eksamentye kry ons blokkoek en drink tee in die ‘Cookery’. Motors was ‘n taboe vir voorgraadse studente, en almal ry steeds fiets. Toe ek nagraads in Hys Mys my eerste karretjie kry (‘n tweedehandse Triumph Chicane), het ‘n nuwe Stellenbosch vir my oopgegaan! Nou ry ek naweke Jonkershoek of Kaap toe, of na my plaasfamilie in die Koue Bokkeveld – steeds baie versigtig en spaarsaam met brandstof. Dit help om maats te laat saamry om brandstofgeld te deel! Ons ontdek staproetes en pak rugsakke vir die Outeniquas, Visrivier, Hottentots-Holland en ander opwindende bergroetes. Die plek pas my soos ‘n handskoen. Hier wil ek bly.
My eie 3 seuns raak in die Eikestad groot. Na 25 jaar in Stellenbosch wink Silicon Valley vir pa Pierre, en ons groet ons Paradyskloofhuis. Die vierde generasie studeer nou aan universiteite soos Stanford, UC Berkeley, UCSD en CSU in Kalifornië, en Columbia Universiteit in New York. Ons gedy, ons kry swaar. ‘n Groot kultuurlose vakuum omring my. Ons bereik hoogtepunte en dwaal ook koersloos deur die resessie van 2008. Na vele slapelose nagte vertrek ek in 2017 terug Stellenbosch toe met ‘n wonderlike loopbaangeleentheid aan die Universiteit. So ‘n solo-safari is ‘n groot sprong! Ek haal diep asem en land saggies. Dis swaar – en dis wonderlik! Stellenbosch omhels my weer met tortelduiwe en riviere, berge en groen. Dis tyd om lig te leef. In Paradyskloof huur ek ‘n tuinwoonstel by ‘n Duitse kunstenaar wat met sy Ugandese vrou 6 maande van die jaar in Stellenbosch woon. Ons kuier en eet en gesels. Ou vriende is steeds daar en ons gaan weer op staptogte – ‘slackpacking’ is ‘n nuwe lekkerte. Ek woeker met navorsingsfasiliteite en bou ‘n laboratorium, mentor en motiveer studente, en sit soms asemloos en in verwondering oor die Suid-Afrika en Stellenbosch waarin ek my nou bevind. My studente en medewerkers kom uit Nigerië, Uganda, Namibië en Zimbabwe, asook Cambridge, Oxford en van oraloor Europa. Ek skakel in by die ThinkTank met KU Leuven en sing weer in Canticum Novumkoor – nou onder leiding van Louis van der Watt. My pa is onlangs oorlede, die verlange is erg, en naweke neem ek my ma op kronkelpaaie na familie en ou vriende. Ek en my suster diep geraamtes op uit die familiekas en lag oor die dag wat kom. Ek haal weer asem tussen blou berge en fynbos.
In 2020 roep Stanford Universiteit my terug en my gesin wag my in. Dit was nodig, dit was goed, ek weet waar ons hoort. Ons harte trek steeds Suid. Onwrikbaar soos ‘n kompasnaald. Die trek van generasies.
Want daar’s net een Bos… en dis Stellenbosch!




