Hortus Botanicus. So het die bord teen die wit pilaar langs die houthek in Neethlingstraat aangedui. As ‘n 1977 eerstejaar-‘knol’ in Harmonie Dameskoshuis net langsaan, het ons daagliks oor die tuin uitgekyk en by die houthek verbygestap op pad na die Laan, of Coetzenburg, of op pad dorp toe. As Botanie-student was dit ook ons voorreg om ‘n toer deur die Botaniese Tuin te kry tydens een van ons praktiese klasse. Wim Tijmens was kurator, en die Pelargonium-guru, Prof JJA (Adri) van der Walt wat hoof van die Botanie Departement was, het sy uitgebreide inheemse Pelargonium-versameling daar gehuisves – ry op ry plantpotte met kosbare ‘wilde malva’-steggies uit al die hoeke van Suid-Afrika. Toe daar aan die einde van ons eerstejaar ‘n kennisgewing verskyn dat die departement ‘n student soek om Sondae ‘diens te doen’ as hulp-kurator in die Botaniese Tuin, het ek versigtig gaan klop aan prof. van der Walt se deur. Die soeke was eintlik na ‘n nagraadse student, maar ‘fools rush in where angels fear to tread’: ek het reeds langs die tuin gewoon en met min te doen op ‘n Sondagmiddag voor kooroefening en kerk, terwyl my ouers ver is en die koshuis leeg… En ek kon ekstra sakgeld verdien! So gebeur dit toe dat hierdie jong Botanie-student Sondagmiddae hekke oopsluit, fonteine aanskakel (elk met sy geheime wegsteekkraan iewers onder ‘n klip), besoekers se vrae antwoord en kyk dat niemand plante wegdra nie… Ek kon selfs in die kuratorskantoor vir my tee maak en deur publikasies en herbariumeksemplare blaaI – ‘n groot voorreg vir ‘n student wat nog inkomtye en strafdienste in die koshuis het, en min vryhede in die klein wêreld waarin ons geleef het. So het my hart se reise in die Hortus Botanicus van die Stellenbosch Universiteit begin.
In 1980 begin ek met Botanie-honneurs, en daardie jaar raak die tuin my laboratorium en leefplek. Vir my honneursprojek en skripsie moet ek ‘n studie maak van die trigome (fyn haartjies en klierhare wat essensiële olies afskei) van al 133 inheemse Pelargoniumspesies in onse prof se versamling, om te bepaal of die strukture enige taksonomies waarde het. ‘Painstaking’ was beslis die woord vir my eerste jaar van navorsing… maar groot vreugde om die plantmonsters daagliks in die Hortus Botanicus te kry, en dan ook op ontdekkingsreise en versameltogte saam met prof Adri van der Walt en dr. Piet Vorster te gaan. Ek was toe nog ‘juffrou Oosthuizen’ en geïnspireer deur groot geeste soos dr. Ave Duthie en prof. Miriam de Vos, pioniers in eie reg. En ter plaatse het prof Jan de Bruyn, Adri van der Walt, Johann Visser en Jan Coetzee nuwe horisonne geskep. Met die begin van my MSc (steeds Botanie) trek ek en ‘n paar vriendinne na die universiteitshuis ‘Hys Mys’ op die hoek van Murray en Neethlingstraat. My kamer het ‘n kaggel, stoepdeur en venster wat uitkyk oor die Botaniese Tuin. Die tortelduiwe was ons oggendwekker en kortpad klas toe was deur die tuin. So gebeur dit toe ook dat ek my destyde kêrel oorreed om een naweeksaand in die Botaniese Tuin te gaan slaap. Ek het mos die sleutel! Donkeraand trek ons ons plat in slaapsakke langs die lotusdam met eende wat nesskrop en ‘n paddakoor wat kompeteer met die krieke. (Dalk was ons die enigste mense wat ooit die voorreg gegaps het?) Die ateljee in die middel van die tuin – nou restaurant en kuierplek – was gebruik vir vergaderings en klankopnames. Ek onthou ‘n radio-onderhoud voor ek in 1981 na Israel vertrek vir ‘n studietydperk by Weizmann Instituut, en ‘n uitstalling van Elaphie Ward-Hilhorst, die illustreerder van die JJA van der Walt-trilogie oor Pelargoniums van Suider Afrika. Die Tuin het my as’t ware gehelp grootword en my eie stem kry.
Na PhD en trou en ‘n ompad deur Pretoria (studies vir my, diensplig vir my wederhelf) trek ons harte sterk terug Kaap toe en ons bou huis in Paradyskloof en maak 3 seuns digby die Akker groot. Nou is die Botaniese Tuin my seuntjies se speelplek, piekniekplek en boomklimparadys. By Wim Tijmens se ‘Gedoentes’ plas hulle rond, spring oor klippe in die leliedam, val soms in die fonteindam, en word bosmonsters in die Arboretum. Die geheime lewe van plante is ‘n nuwe ontdekking, en toe my oudste op ‘n ‘los-my-uit-dag’ vir sy boetie skree ‘moenie naby my kom nie, ek is vandag ‘n brandnetel’ toe besef ek, iets het ek reg gedoen, en Die Tuin het ook onder hulle vel ingekruip.
In 2005 trek ons ons tentpenne uit, en lei ons paaie na Kalifornië. Ek verlang… ek mis my tuin. Ek kan nie verstaan dat die top-universiteit waar ek my nou begewe nie ‘n Hortus Botanicus het nie. ‘n Kaktustuin sonder naambordjies tel tog nie? En wie neem nou sy meisie vir kuier op ‘n bankie langs ‘n kaktus… Met elke Kaapse kuier (ten minste 2 maal per jaar!) is die Botaniese Tuin bo-aan my lysie. Toe ons verlede jaar as gesin saam in Stellenbosch is vir die Kersseisoen, besluit my seuns om hulle ma te bederf met ‘n paar dae in Hys Mys. Nou ‘Bon Esperance Boutique Gastehuis’ – waar ek weer in my ou kamer slaap, op dieselfde stoep sit en uitkyk oor die Hortus Botanicus, met duiwe wat my wakker tortel. Die tuin het nou ‘n nuwe gesig gekry, en almal staan verbaas oor die ingrypende verandering. My enigste vrees was dat die nuwe kurator ‘n ander pos sou aanvaar voor die omskepping klaar is, want dit sou haas onmoontlik wees om sy visie te voltooi sonder sy leiding. Met Don Kirkwood se tragiese dood in Augustus onhou ek my vrese en woorde, en weet sy werk was voltooi. En Hortus Botanicus en ‘n oorvloed van herinneringe leef voort, en is nog lank nie klaar nie. En ek is spoedig weer daar! Dankbaar en bly oor die pioniers en mentors, rolmodelle, inspirasie en geborgenheid wat die tuin der tuine my gebied het. Hortus Botanicus van die Stellenbosch Universiteit.