Ek het vanaand weer die vleiloerie gehoor. Vir die eerste keer in baie jare het sy borrelende chromaties-afgaande note oor die bos gehang. En skielik onthou ek weer die man met die hond. Dit was ‘n husky. Ek was 7 of 8 jaar oud en ons woon op die Robbertsons se plaas Kingston, naby Ruigtevlei. Oom Willie se broer is skielik dood en hulle roep sy seun wat op ‘n Suidpoolsending is per amateurradio om hom die tyding te gee. (Ons het eers later van Antarktika begin praat – en dalk was hierdie nie eens ‘n regte ‘Suidpooltog’ nie, maar so is dit in die wonderlike ligtheid van kinderherinneringe…) Pappa het altyd vertel in daardie jare was amateurradio die enigste tegnologie waarmee hulle hom in dié verre verlatenheid kon opspoor. En die seun kom huis toe. Vir dae lank het die jong man oor die plaas gedwaal met sy hond aan sy sy. Die husky het saamgereis uit die poolsirkel en hulle was onskeibaar. Ons was gefassineer. Was dit die baard? Die hond? Die verlatenheid en hartseer? Dalk die blote idee dat ‘n ‘ontdekkingsreisiger’ in vlees en bloed ons plaasbestaan kon penetreer.
Ek dink nou dikwels aan die jong man met die hond. En die vleiloerie wat altyd saans in ons tuin geroep het as die skemer sak en die mis oor die klowe hang. Die dood is ‘n getroue hond wat styf teen jou stap, ‘n skaduwee wat mens in toom probeer hou – en tog voed en volg én lei. Die vertroude metgesel wat al harder hyg en dan weer stil lȇ en sy pote lek en met uithangtong en vriendelike oë opkyk in afwagting na die laaste bult-op loop, nog een oggend se boslangs stap, vir oulaas uitkyk oor die branders wat woes breek. Nog één kampvuur, een laaste oggendkoffie op die stoep. Een volmaan wat oor die vlaktes hang.
Die bebaarde jong man met die hond is terug Suidpool toe. Dalk het hy ook saans na die Suiderkruis en melkweg gestaar en soggens voordag vir Venus en Orion gegroet en geglo sy pa sou daar bo wees. En as die vleiloerie meteens die aand voor sy verjaardag borrel en roep, dan weet ek my Pa loop steeds in die aandskemer deur sy tuin.