Wat sê ‘n mens as die persoon wat jou eerste en langste maatjie was, skielik weg is?
Ek en Jos het presies 2 jaar en 2 weke verskil – sy was dus van dag een af DAAR in my lewe, en a.g.v. die afgeleë plekke waar ons kleintyd gewoon het (Wallekraal in Namakwaland, en Ruigtevlei naby Sedgefield, tot ek 8 en Jos 10 jaar oud was – en sus Karen net gebore), was ons geheelenal op mekaar aangewese vir saamspeel, in die veld loop, stories luister, legkaarte bou, leer help in die kombuis (Jos het op 6 reeds haar eerste marmeladekonfyt op Wallekraal se houtstoof gekook!), tuinmaak, lag… en sing! Veral laasgenoemde was ‘n groot tydverdryf tydens lang roadtrips, vakansietogte op grondpaaie waar ons pa en ma so graag getoer het. In Namakwaland was die kinderboeke maar skaars, en dan het ons ouers vir ons voorgelees uit Ouma se universiteitsboeke – gedigte van Totius, Eugene Marais, Uys Krige, WEG Louw, Louis Leipoldt en ander. Ek onthou ons gunsteling was Laetitia van A.G. Visser… “ ‘n Lied van frisse maagdeskoon, Blou oë waarin die hemel woon” en Eugene Marais se Dans van die Reën… “O die dans van ons suster!” Ja, ons was nog voorskools, en WOORDE het as’t ware ons speelmaats geword en troeteldiere vervang. En Jos het die woorde in haar kop gebêre, dit het haar stokperdjie en beste tydverdryf geword, en sy het ‘n loopbaan daarvan gemaak.
Maar voor daardie loopbaan… eers iets meer van ons kinderjare. Ons was onderskeidelik 4 en 6 jaar oud toe ons die geheimsinnige wêreld van Namakwaland se Sandveld en Wallekraal se koshuis betree. Vir ons het ‘n nuwe fantastiese wêreld oopgegaan, en ons het in kinderlike onskuld vrede gehad met ons ouers, beide skaars 30, se harde werk en ontnugtering deur vreemde uitdagings en swaar tye. En hier het Jos reeds gewys sy is ‘n dapper mens. As die steekvlieë en brommers in die droë rivierloop ons takel, het Jos nie weggehardloop en gillend agter ons ma se rokspante gaan wegkruip nie – sy het vierspoor vasgesteek en op die steekvlieë gespoeg. Links en regs en vorentoe tot alle vreemde vlieënde voorwerpe wyk. Toe die Spoegrivier (dit is inderdaar die rivier se naam!) in vloed afkom na ‘n een-maal-per-dekade stormreën, en ons totaal van die buitewereld afgesny word met Wallekraal op sy eie eiland – staan Jos op die wal van die rivier en bekyk die magtige vloed, sodat ons pa ‘n onvergeetlike foto van haar neem: wit hare woes in die wind, armpies styf opgetrek teen haar lyf in ‘n tuisgemaakte wintersrokkie… Sy sou daardie dapperheid dikwels in haar lewe herhaal.
Jare later, toe ek haar gevra het hoe sy dit regkry om soveel teenslae te oorleef, was haar woorde dat sy vroeg reeds besef het, woede is beter as vrees – om kwaad te word is beter as om in angs vasgevries te wees…
Vreesloos, en met ‘n wil van haar eie. Jos het onlangs begin om ‘n boekie vir haar keinkind (binnekort -kinders!) te skryf, en gereeld vir my die nuwe insetsel gelees. (In die boekie, ‘My ouma is weird’, beskryf sy haarself deur die oë van haar kleinkind en skeer eintlik met haarself die gek). “My ouma hou glad nie daarvan as mense sê sy moét iets doen nie. Sy sê daar is niks wat ‘n mens moét doen nie. Sy doen net iets as ‘n mens baie mooi vra”. Toe die Wallekraalse koeie dus destyds in 1962 bittergousblomme eet, sodat die melk ‘n aaklige bitter smaak kry, het Jos daardie sterk wil tot uiting laat kom, en eenvoudig geweier om melk te drink – ‘n beginsel waarby sy vir die res van haar lewe gehou het. Ten spite van Milo en Ovaltine en Nesquick (en baie mooi vra) en trou met haar geesgenoot en liefling wat versot was op vars melk – selfs met Coke daarby
Na Wallekraal was daar Ruigtevlei se plaasskool, en woon op ‘n plaas met ‘n diep donker rivier, ‘n woud met boomslange, loeries en bobbejaantoue, en ‘n kwaai bul wat in ‘n kamp met die lekkerste speel-hooimied aangehou is. Om by die hooimied te kom, moes ons eers die rooi bul dophou en blitsvinnig deur die kamp hardloop voodat die gedierte ons jaag. Ons het ons eie ‘Little House on the Prairie’ en ‘Little House in the Big Woods’ dae gehad. Ons het hutte gebou van boomtakke, leer vuurmaak en in hoë bome wat oor die rivier hang geklim – en saans met vuil voete wat ruik na beesmis tuisgekom. Terwyl ons ma badwater op ‘n Primusstofie kook, en vars water in ‘n watertenk buite die huis moes tap (daar was geen elektrisiteit of vars lopende water in die huis nie)… Weer eens was ons totaal op mekaar aangewese, en het soggens saam met ons pa skool toe gery in die groen Cortina, saam agterop ‘n lorrie gery na ons eerste atletiekbyeenkoms – waar ons loshande gewen het, want dit was die eerste keer dat ons op n ‘plat baan’ hardloop na al die oefen teen die bult voor die plaasskool! En ons het geleer om mense wat sout van die aarde is, lief te kry en te vertrou. Boswerkers, vissermanne, plaaswinkeleienaars, bestaansboere. Ek kon darem een keer Jos se lewe help red toe die bure se kinders ons uitdaag om op die huis se dak te klim, en net toe Jos bo is, neem hulle die leer weg… My 6-jarige beentjies het gespin soos ek hardloop om ons pa te roep om Jos te kom red.
En toe het ons ‘n lank-begeerde sussie bygekry! En dorp toe getrek, waar ons ouers ‘n huis gebou het en ons totaal geborge laat grootword het. En Jos het ge’blossom’ met ongelooflike vriendskappe in die nuwe dorpskool en omgewing.
Op Hoërskool was ons gewoontes en roetines heel verskillend. Waar ek middae op die sportveld deurgebring het, was Jos se gunsteling tydverdryf om op haar bed te lê en lees, die mooiste stories en opstelle te skryf (die taalonderwyser het selfs haar opstelle as begripstoets vir die klas gebruik), en met vriendinne op die telefoon te boer. En daardie vriendskappe, kuiers by bure en uitreik na die mense om haar, is met die afgelope paar jaar se moeilike pad, vele operasies, en laaste paar weke se angstyd, duidelik weerspieël in die mense van heinde en verre wat kontak maak, ondersteun, hier is vandag – in persoon, of net in die gees. DANKIE julle.
Ek en Jos het ook ons Racheltjie de Beer-oomblik gehad. In daardie einste tyd toe my daaglikse roetine om fiksheid gedraai het, het ons op een van ons wonderlike lang Desembervakansies op Vleesbaai besluit om rotslangs te stap tot so na aan Fransmanshoek as ons kan kom. Toevallig trek die wolke die dag saam, en ‘n harde reenbui sak uit met wolke wat laag hang na die weerman se ‘langs die Tuinroete sal miskolle in die oggend voorkom en reënbuie later in die dag’. Ons soek vervaard skuiling onder rotse, maar die enigste skuiplek wat ons kan kry, is skaars groot genoeg vir ‘n kind. Tot my verbasing sê Jos ‘klim jy hier in, jy mag nie nou siek word voor jou atletiekbyeenkoms nie…’ (En dit terwyl ek nie eens geweet het sy is bewus van my fanatiese oefenprogram nie…) Die ervaring het dikwels na my teruggekom as Jos so bekommerd is oor Mamma wat kan val, wat snags alleen slaap, wat tog haar bloedsuiker moet dophou, kommer oor vriendinne wat so hard werk, wie se mans so baie van die huis weg is… Altyd uitkyk vir ander, dikwels ten koste van haarself.
‘n Mens-mens, soos almal vandag sal vertel en soos ons haar in die toekoms gaan mis. Sy het geglo sy kan enigiets uit haar bed doen – blokkiesraaisels invul, op haar selfoon gesels, en selfs haar Weetbix eet - want, het sy volgehou, ‘hoekom moet ek alleen by die tafel gaan sit is as ek lekker in my bed kan lê’. En die laaste paar maande het sy al meer na ander se klagtes en kerms oor werk en verpligtinge en daaglikse ‘ups-and-downs’ geluister op haar foon en uit haar bed – en altyd weggepraat van haar eie swaarkry.
Doelbewus? Jos het ‘n baken en ‘n anker geword vir ander om by skuiling te soek.
Haar sielsgenoot en onvervangbare maat het sy op Fraserburg ontmoet. Na Universiteit, en toe sy haar teatertalent ontdek het… die skaam kind agter die gordyn na vore laat kom het. Tian se kuiers is ‘n ander dag se stories. Die vyfuur voordag se visvang op Vleesbaai saam met sy aanstaande skoonpa nadat hy en Jos tot lank na middernag ‘opgesit’ het… My saamry van Stellenbosch af Fraserburg toe om vir ‘sy ouers’ te gaan kuier… Die bewuswording van my ousus wat nou haar eie wêreld en haar eie mense het. Haar eie identiteit ontwikkel het. En ongelooflik gelukkig is! Ons was so trots op haar toneelprestasies, haar impak op die gemeenskap. En ons bly trots.
Jos was die onderwyser wat mense geleer het om anders te dink, ‘to seize the day’, en om op te staan vir dit wat reg is. Die persoon vir wie kinders op hul lessenaars sou klim en uitoep ‘O Captain, my Captain!’ (Vir die wat Walt Whitman en ‘Dead Poet’s Society’ ken).
‘O Captain! my Captain/ Our fearful trip is done/ The ship has weather’d every rack, the prize we sought is won’
Daar is soveel gedigte in Afrikaans wat treur oor ‘n kind – of soldaat of vriend of digter wat dood is. Eitemal, Totius, selfs ‘n Marius Ackerman…
Maar vir Jos, veral na haar beste maat en enigste sielsgenoot te vroeg weg is, was hierdie die woorde om mee tot siens te sê (met apologie aan ‘Die uurwerk kantel’ van Marie Heese)
huil help niks
al wat help, is tyd
al wat help, is ouer word
die hart is ‘n verraaier
het julle dit geweet
almal huil vandag maar ons sal weer lag
ek ook
ja, selfs ek sal weer lag
maar al groei dit toe
dié wond dit genees nie
jy dra dit met jou rond tot in lengte van dae
die snoeiword aan ‘n wingerdstok genees nie
dit bly ’n dooie eiland in die lewende weefsel
Vader het my gewys
‘n ou stok kan vierhonderd snywonde aan sy stamdeel hê
maar hoeveel die hart kan dra dit weet ek nie
lê haar in die grond
lê haar gebroke liggaam saggies in die grond
miskien sal hier
aanstaande jaar in die blomtyd
madeliefies groei
Jos se gesin was haar ALLES. Na Tian se weggaan, was haar dogters haar alles, en later ook hulle ander helftes. Familie. En vandag wil ek vir Ange, Lianel en Tania verseker dat hulle nou, saam, deel van ONS alles is. Moet nie alleen of eensaam voel nie. Ons is hier vir julle.
Daarom, vir Jos met haar kop en boekrak en lewe vol woorde, wil ek haar gesin en ons almal ook troos met die woorde van Amanda Strydom, ‘n versinnebeelding van Jos, wat in ons harte en gedagtes sal voortleef:
Sy plant haar woorde in die grond
Sy lei dit nat met trane
Sy hang haar woorde in die wind
Gooi haar woorde na die son
Strooi haar woorde oor die see
Sy skreeu haar woorde vir die nag
die sterre het ore
En die noordewind kom
En haar woorde waai ver
Verdwyn in die niet…
In die boord word weer woorde gebore
Sy pluk haar woorde in die boord
Sy pak hul in haar mandjie
Sy vleg haar woorde in ‘n krans
Poets haar woorde met fluweel
Dra haar woorde soos ‘n kroon
Vir my gekroonde suster.
Met ‘n kroon van woorde.